Hartlegkaartstukplekke


Kinders se hartlegkaartstukplekke. . .

image

Wanneer mens ñ legkaart bou kom mens by tye by ñ plek waar mens lus is om op te gee en alles in die stinknuwe winkelboks terug te gooi om in afsondering en chaos te lê en vergaan. Veral wanneer mens by die wolke of blomme of gras of water of. . .kom wat alles op die oog af dieselfde lyk.

Kinders grootmaak is baie dieselfde. Elkeen kom trap sy eie unieke nessie in mens se hart oop, indien mens hulle toelaat. Met party is die toelaatslag moeiliker as met ander. Verbonds kinders (die res van die wêreld noem hulle stiefkinders, pleegkinders, aanneemkinders) is die grootste uitdaging in die legkaartbouproses. Ek noem hulle verbondskinders omrede die oomblik wanneer mens besluit om hulle te vat is dit as ware om ñ verbond voor hulle en jou eie hemelse Vader af te lê dat jy na deel van sy oogappel sal kyk.

Die groot uitdaging hier is dat mens die plek in jou hart leeg van verwagtinge en vooropgestelde idees oor hoe jou kind moet, mag en kan wees maak. Indien ons nie daai goed kan neerlê en vir hulle ruimte gee om hulleself by ons te wees nie gaan die plek wat mens as ouers in hulle hart kry ook baie klein en beperkend wees.

In die proses van legkaart bou met wat ons partykeer voel die agteraansig van die legkaart is, raak ons moedeloos en los dit maar net daar op die tafel. Hoe meer mens trane, jou hart, tyd en geld in die legkaart belê hoe moeiliker raak dit om als terug te gooi in die boks. Dan los ons dit maar net en hoop die puzzle van wie ons kind in Sy skepper se plan moet word sal maar net self na mekaar toe aangeloop kom.

Ons almal ken daai tye. Die vloerneerslane in al sy vorms. Die toeboek ‘whatever kannie worry of jy bestaan’ tye. Die openlike ‘buzz off ek het jou nie nodig nie’ en ‘jy kan my niks vertel’ tye. Die ‘Pa teen ma en andersom afspeel om hul sin te kry tye’. Dis makliker om dan net die wolke, wat skynbaar alles dieseldfe lyk te los en te hoop dat daai deel soos ystervylsels gemagnetiseer sal word en na mekaar toe sal spring op die regte tyd. Dit kan dalk. Deur gebed en deur die legkaart stukkie vir stukkie te laat gaan. Ander mense sien partykeer beter om dele van ons kinders se legkaart aanmekaar te help sit as ons. Daar is ñ engelse sêding ‘it takes a village to raise a child’. Dit neem nie mens se verantwoordelikheid as ouer weg om die proses te fassiliteer tot mens se kinders oud genoeg begin raak om dit self te doen nie. Dit kos maar net ñ stuk heelheid en volwassenheid om onsself jaar vir jaar uit die posbeskrywing van ‘hooflegkaartboufassiliteerder’ te werk en dit op die regte tyd stukkie vir stukkie in ons kinders se hande oor te gee. Dit help om te onthou ouerwees is net nog ñ posbeskrywing. Dis nie ons hele identiteit en roeping nie!!

Wanneer van die kinders se legkaart groeiprobleme, gestremdheid vir watter rede ookal, ernstige siekte ensomeer insluit raak die besluit wanneer en wat gee mens aan wie oor, op watter tyd nou eintlik, veel moeiliker.
Die hele proses van legkaartbou is altyd ñ reis met ñ eindbestemming. My Pa het altyd gesê: “Vakansie begin die oomblik wanneer mens by die huis wegtrek.” Kom ons geniet die reis met al sy aspekte sonder om fokus te verloor van die bestemming.

Net Hy weet waarlik hoe lyk die eindproduk, want met die legkaartmeesterstuk gee Hy nie vir ons die prentjie voor die tyd nie. Hy gee ons die keuse om ons eie legkaartmeesterstuk saam met hom tot ñ unieke pragstuk. Wanneer ons Hom kan toelaat op ons eie meesterstuk sal hy ons wysheid gee om die bou van ons kinders se meesterstukke te fasiliteer op ñ manier dat sy prentjie op die ou eind uitkom en nie ons vooropgetselde idee van hoe ons en ons kinders sin moet lyk nie.

HS